MORELE HERBEWAPENING

MORELE HERBEWAPENING as bewe­ging is deur Frank Buchman, ’n eertydse Amerikaanse Lutherse* predikant, gestig met die doel om die wêreld te hervorm. Hy het in 1907 ’n geestelike belewenis gehad wat hom oortuig het dat sonde* en boos­heid die oorsaak van alle probleme in die wêreld is. Tydens die 1920’s het hy studente by Oxford begin bearbei wat tot die ontstaan van die sogenaamde Oxford-beweging gelei het. In 1938 is die naam van die beweging tot Morele Herbewapening verander. Gedurende die Tweede Wêreld­oor­log* het die beweging veral in die VSA sterk gegroei en in 1946 is ’n hotel in Caux, Switserland, as hoofkwartier aangekoop. Buchman het sy boodskap met welslae aan staatsmanne, studente en arbeiders wêreldwyd gebring. In 2001 is die naam na Inisia­tiewe vir Verandering gewysig.

Hoewel Morele Herbewapening ’n Chris­te­like agtergrond het, probeer dit om gemeenskaplike grond tussen alle gods­dienste te vind. Die sentrale boodskap is dat mense met absolute eerlikheid, reinheid, onselfsugtigheid en liefde* moet optree ten einde die wêreld te verbeter. Sodoende word lede voorberei om na die stem van God tydens stille meditasie* te luister. Dit het teen 1960 baie aanhangers ook in Suid-Afrika gehad.

Sidebar