MORELE INTEGRITEIT

MORELE INTEGRITEIT dui op die karakter van iemand wat ander oortuig dat sy/haar uiterlike dade én innerlike gesindheid en motiewe beantwoord aan die hoogste etiese norme.

Christelik gesien, is die diepste oorsprong van morele integriteit die fundamenteel-veranderende invloed of gebeure wat jou voor God te staan bring en waar­deur jy ’n visie van God en sy wil ontvang (visio Dei). Dit skep ’n nuwe ervaring van identiteit. Rondom hierdie identiteit groei ’n karakter, gevorm deur die oor en oor hoor van die Christus*-verhale (die “in Christus”-wees) en wat gestalte vind in ’n praktiese lewenstyl van Christelike deugde (vrug van die Gees*), binne die tradisie wat gedra word deur die geloofsgemeenskap met sy gesaghebbende teks (die Skrif*). Vooraf gaan dus nie ’n teoretiese kennis van reg en verkeerd nie, maar eerder die eksistensiële en persoonlike vraag: “Watter soort mens is ek?” Eers daarná volg die nadenke oor en formulering van waardes* (dit wat ons wil behou) en norme* (wat ons moet doen). Sonder eersgenoemde proses (visie, identiteit, karakter en deugde) is etiese norme kragteloos. Dit is juis daardie proses wat morele integriteit skep.

Sidebar