MORELE MEERDERHEID (“MO­RAL MAJORITY”)

MORELE MEERDERHEID (“MO­RAL MAJORITY”) is die grootste en mees prominente sosiale veranderingsbeweging van die “New Christian Right*” in die VSA, en is in Junie 1979 deur die leraars van ’n groot groep onafhanklike Baptiste* kerke in die suide van Amerika gestig, onder wie Jerry Falwell die prominentste figuur was. Hulle gedeelde behoefte was die daarstelling van ’n nie-partygebonde politieke organisasie wat moraliteit* in die publieke lewe sou bevorder en wetgewing sou beveg wat immoraliteit bevoordeel.

Hulle oortuiging was dat die Ameri­kaan­se samelewing bedreig is deur humanis­tiese* kragte – sekularisme*, modernisme*, liberalisme* – waaronder ’n wye reeks kwes­sies sorteer, onder andere die groei­ende verdraagsaamheid teenoor homosek­suele* mense, seksuele permissiwiteit, los­ser wetgewing oor egskeiding*, wettiging van aborsie*, die erodering van gesinswaar­des*, die afskaffing van Christelike onder­rig* en gebed* in openbare skole en die ver­vanging daarvan met, soos dit gestel word, “ateïstiese Darwinisme*”.

Hulle teologiese wortels is konserwatief-evangelikaal (Kyk by: Evangelikale bewe­ging) met die klem op innerlike bekering* en ’n wantroue in die menslike pogings tot hervorming soos egalitarisme, regstellende aksie* en die welsynstaat. Die “Moral Ma­jori­ty” se politieke betrokkenheid is vir hulle ’n manier om “Amerika terug te draai na God” toe. Hulle vind ook aansluiting by premillenniale verwagtings (Kyk by: Premillennium) in verband met die nabye koms van die antichrist* en die groot verdrukking.

Sidebar