MORELE OBJEKTIWISME

MORELE OBJEKTIWISME dui op ’n familie van etiese opvattings oor die bron, of basis, van moraliteit* wat aanvaar dat reg en verkeerd, goed en sleg, of dit wat respek verdien en wat nie, objektief bestaan, onafhanklik van die subjektiewe begeertes van indiwidue, of die spesifieke voorkeure van kulture. Volgens die klassieke Griekse benadering kan hierdie objektiewe morele waarheid*, waarvolgens die menslike na­tuur gerig moet word, ontdek word deur vraagstelling, introspeksie of ervaring. Vol­gens die breë Christelik-teologiese tradisie word die objektiewe morele waarheid deur God deur die Heilige Skrif* aan die mens geopenbaar. Gedurende die Middeleeue het hierdie twee benaderings dikwels met mekaar in debat getree oor die vraag of, en in watter mate, daar ooreenstemming bestaan tussen God se morele wet wat deur sy openbaring kenbaar word, en die sede­wet vir menslike gedrag (verstaan as ’n natuur­wet) wat deur die rede kenbaar word. In sekere stromings in die moderne Westerse etiek word die idee van die bestaan van objektiewe morele waarhede sterk bevraagteken (morele subjektiwisme, konsekwensialisme, sosiale kontrakteorie), of, waar die bestaan van objektiewe morele waarhede wel toegegee word, word dikwels gevra of ons daardie waarhede regtig kan ken soos wat ons die objekte van ons erva­ring feitelik kan ken (morele skeptisisme, morele intuïsionisme). (Kyk ook: Etiese realisme.)

Vir verdere lees: C Rowe 1991. “Ethics in Ancient Greece”, en J Haldane 1991. “Medie­val and Renaissance ethics” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers.

Sidebar