MORELE ONTWIKKELING

MORELE ONTWIKKELING. Om mo­reel te ontwikkel of volwasse te word, is om toenemend ’n “goeie mens” te word, iemand wat in staat is om goed te wéés en goed te dóén. Dit is om morele beginsels (bv “moenie egbreuk pleeg nie” of “moenie steel nie”) en morele waardes (byvoorbeeld geregtigheid of medelye) te verinnerlik (te aanvaar én uit te leef). Dit is belangrik om te onderskei tussen morali­teit (innerlike goedheid wat as ’n gevolg van God se liefde* ontwikkel en ook uiterlik uitgedruk word), en moralisme (’n bloot uiterlike, wettiese poging, gebaseer op verdienste, om goed te wees).

Sielkundiges soos Freud*, Erikson, Piaget en Kohlberg het teorieë oor morele ontwikkeling geformuleer. Carol Gilligan het kritiek gelewer op die manlike vooroordeel van Kohlberg se benadering (wat die klem lê op morele beredenering en outonomie) deur te benadruk hoe belangrik omgee en ver­houdings is. Sosiologiese benaderings be­klemtoon morele sosialisering: die ma­nier waarop ’n persoon aan die moraliteit van ’n bepaalde samelewing bekendgestel word deurdat beloning en straf gebruik word om inligting oor te dra oor wat aanvaarbare gedrag is. ’n Mens leer jou persoonlike moraliteit (of immoraliteit) uit die lering en voorbeeld van diegene naaste aan jou, soos ouers en familielede. Later word jy moreel gesosialiseer deur jou kultuur, opvoeding, ondervinding en die invloed van die rolmodelle wat jy wil navolg. Verder vind morele ontwikkeling plaas deur die ontwikkeling van jou gewete, deur jou wilsbesluite (keuses) en deur gedragspatrone. Ons word, só het Aristoteles gereken, wat ons kies en by herhaling doen. ’n Kenteken van morele volwassenheid is selfbeheer of selfdissipline.

Deur die geskiedenis het Griekse filoso­we soos Plato en Aristoteles sowel as teoloë soos Tomas van Aquino* die belangrikheid van deugde (moreel wenslike eienskappe) beklemtoon. In die Christelike denke is daar tradisioneel sewe hoofdeugde: geloof, hoop en liefde (die “teologiese deugde”), en verstandigheid, standvastigheid, gematigd­heid en geregtigheid (die sg “menslike deugde”). Wanneer Christelike deug­de ter sprake is, lê die klem op die soort mens wat iemand is, op morele norms en waardes wat verinnerlik word (sien Mark 7:14-23; Gal 5:22). Deugde is kenmerke van “karakter” (bv reg­ver­digheid) eerder as van persoonlikheid (b­v skaamheid).

Vir Christene sluit morele ontwikkeling ook bekering* en dissipelskap in. Dit is dus ’n voortgaande proses met die doel om al meer soos Christus* te word, sodat dit die gelowige se ingesteldheid, karakter én ge­drag beïnvloed. Dit beteken dat morele ont­wikkeling verband hou met geestelike ontwikkeling of groei, dit wil sê: met heilig­making*. Heiligheid is om te begeer om God al meer lief te hê en te dien, en behels dat ’n mens se wil verlos en gereinig word sodat jou begeertes en motivering gedryf en gevorm sal word deur jou liefde vir God (1 Kor 9:24-27) binne die raamwerk van die gemeenskap van gelowiges (Rom 12:1-8; Kol 3:1-17). Op sy beurt lei hierdie proses tot persoonlike ontwikkeling (’n karakter wat toeneem in deugsaamheid) sowel as relasionele ontwikkeling (die vermoë om in betekenisvolle en gesonde verhoudings te staan – met God, jouself, ander mense en die res van die skepping). (Kyk ook: Morele vorming.)

Vir verdere lees: S Hauerwas 1981. A Com­munity of Character: Towards a Constructive Christian Ethic. Notre Dame: University Press. A MacIntyre 1981. After Virtue: A Study in Moral Theory. Londen: Duckworth. JA van der Ven 1998. Formation of the Moral Self. Grand Rapids: Eerdmans.

 

Sidebar