MORELE OUTONOMIE

MORELE OUTONOMIE is die leerstelling dat mense vry is, en in staat is om deur middel van rasionele denkprosesse vir hulleself te bepaal wat moreel aanvaarbaar is of nie, en dat die standpunte wat hulle sodoende inneem, gerespekteer moet word, al verskil dit ook hoe drasties van die konsensus wat geld in ’n samelewing. Morele outonomie staan teenoor morele hetero­nomie waarvolgens mense gebonde is aan eksterne faktore onafhanklik van hulleself, vir die bepaling van wat moreel aanvaarbaar is. Morele outonomie word dikwels verbind met die idee van gewetensvryheid, wat handig te pas kom om die tirannie van groepdruk te weerstaan. Morele outonomie laat ruimte toe vir gesprek oor die interpretasie van morele beginsels en voorskrifte, en gevolglik ook vir evolusie in hierdie proses van interpretasie.

Volgens Immanuel Kant* (1724–1804), een van die bekendste eksponente van mo­re­le outonomie, is die morele outonomie van indiwidue (persone) gegrond in hulle rasionaliteit. Rasionaliteit verwys hier na daardie vermoë van mense om planne te kan maak vir die toekoms, die impak te kan bepaal van sekere keuses op die ver­werkliking van daardie planne, in vryheid keuses te maak tussen verskillende hande­lingsopsies, en verantwoordelikheid te aanvaar vir daardie keuses. Vir Kant behels respek vir persone respek vir hulle morele outonomie.

Vir verdere lees: O O’Neill 1991. “Kantian Ethics” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers.

 

Sidebar