MORELE VERVAL

MORELE VERVAL verwys na die ontoe­reikende of selfs afwesige morele visie* by talle mense. Dit het ook te maak met die afwesigheid van morele rolmodelle, van mense van karakter en integriteit wat werklik betroubaar is en die waardes* wat hulle predik, ook beliggaam. Derdens verwys dit na die gebrekkige morele keuses wat mense maak en hulle gevolglike moreel verkeerde gedrag. Hierdie ontoereikendheid ten opsigte van morele visie, morele karakter en morele gedrag, is te wyte aan die sonde* in ons lewe. Juis daarom is morele verval ’n saak waarmee mense van alle tye en plekke stoei.

In sommige tydvakke word die tekens van morele verval duideliker gesien as in ander. Dit gebeur veral in tye van snelle verandering soos ons tans wêreldwyd ervaar. Globalisering*, modernisering en selfs postmodernisering (Kyk: Postmo­der­nisme) bring gevoelens van ontwrigting en onsekerheid by mense regoor die wêreld. Afgesien van die veranderings op globale vlak, ervaar Suid-Afrika ook veranderings vanweë die aanvaarding van ’n demokratiese* staat met ’n grondwet wat op menseregte* gebaseer is. Baie mense sukkel om die talle vryhede konstruktief te hanteer en om verantwoordelik op te tree. Die snelle veranderings bring disoriëntasie ten opsigte van morele visie, karakter en besluitneming te weeg. Die evangelie* van verlossing bring genesing van morele verval.

Sidebar