MORELE VISIE

MORELE VISIE verwys na die droom en ideaal wat mense koester ten opsigte van die soort wêreld en samelewing waarin hulle graag wil leef. Dié visie behels dat die waardes* van God se ryk gestalte kry op aarde. Menswaardigheid blom en die res van die skepping* se integriteit word gerespekteer.

Morele visie behels dat daar duidelik­heid is oor die waardes wat aangehang word. Waar daar morele visie is, kan mense waardes wat onduidelik is, opklaar. Morele visie behels dat daar duidelikheid kom waar waardes met mekaar in botsing is. ’n Voorbeeld hiervan is die waardes van vryheid en gelykheid in handveste van mense­regte wat soms in botsing is. As daar net op die vryheid van indiwidue om te groei en te ontwikkel, klem gelê word, en nie ook op die gelykwaardigheid van mense nie, kan dit gebeur dat die bevoordeeldes en sterkes net ryker word, en die armes net armer. Morele visie streef na ’n gesonde kom­promie tussen waardes wat in ’n ge­gewe situasie in botsing is.

Waar daar morele visie is, aanvaar mense die dubbelsinnige karakter van die morele lewe. Hulle besef enersyds dat ons nie altyd net tussen reg en verkeerd kan kies nie, maar dat ons dikwels moet kies tussen meer reg en minder reg, meer verkeerd en minder verkeerd. Hulle aanvaar selfs dat ons soms vir die minste van twee euwels moet kies. Te midde van hierdie dubbelsinnige morele werklikheid, leef hulle tog met duidelike riglyne en beginsels. Sodoende help morele visie dat morele dubbelsinnigheid nie tot morele relatiwisme lei nie, dit wil sê tot ’n niks-is-reg-en-niks-is-verkeerd-nie benadering. (Kyk ook: Morele verval.)

Sidebar