MORELE VORMING

MORELE VORMING is om in die Chris­telike lewe geskool te word, en sluit morele ontwikkeling in. Morele beginsels en waar­des moet uitgeklaar (verduidelik en verstaan) word, maar morele vorming moet sowel indoktrinasie (morele oorheersing) as relativisme (te min leiding) vermy. Dit kan ook informeel gebeur, maar word gewoonlik verstaan as ’n doelbewuste poging deur Christelike leiers om kinders en bekeerlinge te vorm deur hulle te lei tot deelname aan ’n gemeenskap van gelowiges. God se genade* en die proses van bekering* (of heiligmaking*) is sentraal. Binne so ’n raamwerk word die waardes, begrippe, tradisies, oortuigings en gedrag wat die Christelike geloof kenmerk, oorgedra deur die persoon bloot te stel aan aanbidding, formele onderrig, gemeenskap, mentors, omgee, diens en getuienis, en deur hom of haar aan te moedig om die voorbeeld van ander Christene na te volg. Die geestelike dissiplines (soos meditasie*, gebed*, vas*, dienswilligheid, eenvoud, sondebelydenis en viering) help die gelowiges om Christus se beeld al beter te vertoon, wat hulle in staat stel om hulle bedieningstaak te verrig. (Kyk ook: Morele ontwikkeling.)

Vir verdere lees: S Hauerwas 1981. A Community of Character: Towards a Constructive Christian Ethic. Notre Dame: University Press. A MacIntyre 1981. After Virtue: A Study in Moral Theory. Londen: Duckworth. JA van der Ven 1998. Formation of the Moral Self. Grand Rapids: Eerdmans.

 

Sidebar