MORGENSTER

MORGENSTER is die naam van die hoof­sendingstasie van die NG Kerk* in Zimbabwe. Op 8 September 1891 het die pioniersendeling Andrew Louw* in die omgewing van Mugabe se berg naby die Zimbabwe-ruïnes (in die destydse Suid-Rhodesië) aangekom en besluit om sy sending*werk daar te vestig. Hy het sy eerste sendingstasie na sy ouerhuis, die pastorie van die gemeente Toringkerk, Paarl, vernoem. Daarmee saam was dit Louw se gebed dat dié sendingstasie “mag word soos die môrester wat opgaan in die duistere harte om die koms van die son van geregtigheid aan te kondig” (vgl Mal 4:2; 2 Pet 1:19).

Dié gebed is beantwoord, want in die jare wat sou volg, het Morgenster nie net ontwikkel in ’n belangrike sentrum met talle inrigtings waaronder twee hospitale, ’n drukkery en ’n teologiese skool nie, maar daar is ook agt ander sendingstasies in die omgewing opgerig. Gedurende die bosoorlog in Zimbabwe (1972–1979) het Mor­genster en die ander stasies dikwels onder skoot gekom en moes die blanke personeel die stasies tydelik verlaat. Ná 1980, met die onafhanklikwording van Zimbabwe, kon die werk op Morgenster en van die ander stasies weer met vrug voortgesit word.

 

Sidebar