MORMONE

MORMONE. Die stigter van die Mor­mone (die “quint-essential American religion” volgens Time, 8 Oktober 2012) is Joseph Smith wat in 1805 in Ver­mont, VSA, gebore is. Hy het beweer dat ’n engel, Moroni, toe hy 17 was aan hom die opdrag gegee het om na die Cumora-berg naby New York te gaan. Daar sou hy ’n boek vind, geskryf op goue plate, met die vroeë geskiedenis van Amerika en die volle evangelie daarop. Smith het glo die woorde op die goue plate, wat ’n profeet, Mormon, in “hervormde Egipties” daarop sou geskryf het, met Moroni se hulp in Engels vertaal. Daarna het die engel die goue plate weggeneem. Die verskyning van The Book of Mormon op 6 April 1830 val saam met die stigting van The Church of Jesus Christ of Latter-Day Saints in New York. Vandag is die hoofkantoor van dié kerk, met, volgens hulle aanspraak, nagenoeg 14 miljoen volgelinge oor die wêreld, in Salt Lake City, Utah in die VSA. Volgens aansprake van Smith was Amerika die “terrestrial home” van die Tuin van Eden, die plek waar die opgestane Jesus* verskyn het om die evangelie* te herstel en waar Hy weer sal kom – in Jackson County, Missouri. “What is largely metaphorical for many Protestants is literal for many Mormons”, volgens ’n kenner van Mormonisme, Matthew Bowman (Time, 8 Oktober 2012). Smith was ook van mening dat die Konstitusie van die VSA goddelik geïspireer was.

The Book of Mormon beskryf onder meer die geskiedenis van ’n groepie “Israeliete” tussen 600 vC en 400 nC, sommige van wie die voorouers van die inheemse Amerikaanse bevolking sou geword het. Verder bevat dit regstellings waar die Bybel* foute sou hê. Smith en sy volgelinge is telkens deur bure en die owerhede vanweë hulle sienswyses en gewoontes uit hulle woonplekke verjaag. Smith is in 1844 in die tronk vermoor. The Book of Mormon wyk op belangrike teologiese punte van gevestigde kerke se sieninge af, soos die verwerping van die drie-eenheid* van God – hulle meen dat God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees drie aparte gode of wesens is. (Volgens Visser du Plessis, ’n Mormoon, glo Mormone egter wel in die drie-enige God: “Ons glo dat hulle een is, bedoelende een in doel”, By, 22 September 2012). Hulle glo ook dat vóór Jesus terugkeer na die aarde om vir ’n duisend jaar te regeer, alle Mormone versamel sal word en dat die Jode* na Jerusalem* sal terugkeer. Hierna sal God finaal oor die skepping oordeel. Vroeër het veelwywery onder die Mormone voorgekom, maar dit is gestaak. Die Mormone is ywerige genealogiese navorsers; volgens hulle kan iemand hom/haar in die plek van ’n ongelowige afgestorwe voorouer laat doop (die sogenaamde “prokurasie-doop”) sodat daardie voorouer die evangelie kan aanvaar en na die hemel oorgeplaas kan word.

Van jong Mormone word verwag om twee jaar lank – sonder vergoeding – sendingwerk te verrig. Lede word sterk aangemoedig om met ander lede trou, en hulle mag nie alkohol, tabak, koffie of tee gebruik nie. Kritici meen dat die Mormoonse Kerk sekere eienskappe het wat met ’n kultus* vereenselwig word.

Die feit dat die Amerikaanse Republikeinse Party se presidentskandidaat , Mitt Romney, ’n aktiewe Mormoon was, het die kollig in 2012 weer skerp op dié groep en hulle geloof laat val.

 

Sidebar