MOSES

MOSES se geboorte word beskryf teen die agtergrond van die Egiptiese* farao* se poging om alle Hebreeuse of Israelitiese seuns dood te maak (Eks 1:8-22). In die beskrywing van Moses se geboorte word daar geen persoonsname van sy ouers genoem nie (volgens Eks 6:19 was hulle Amram* en Jogebed*), maar dit word wel beklemtoon dat beide sy ouers uit die stam van Levi* (priesterstam) was. Pas ná Moses se geboorte word hy in ’n biesiemandjie op die Nyl* weggesteek en op ’n ironiese manier word hy deur die farao se dogter gevind en deur sy eie ma grootgemaak (Eks 2:1-10).

Moses se naam kan in Egipties verband hou met “geboorte” en word in talle konink­like name soos “Tutmoses” en “Rameses” weerspieël. In Hebreeus* stem sy naam ooreen met die begrip “om uit te haal” en dit sinspeel waarskynlik op beide sy eie redding uit die Nyl en sy rol as redder van Israel* (Eks 2:10).

As volwasse man word Moses bewus van die dwangarbeid wat Israel vir die farao moes verrig. Hy vlug na Midian* nadat hy ’n Egiptenaar vermoor wat ’n Hebreër of Israeliet geslaan het. By Midian word hy gasvry deur die priester Reüel of Jetro* ontvang en trou mettertyd met Sippora* (Jetro se dogter) by wie hy twee seuns het (Gersom* en Eliëser*). Terwyl Moses in Midian skuil, hoor God die Israeliete se geroep en Hy roep Moses in die brandende doringbos op die berg Horeb* om die Israe­liete te bevry. Tydens die roeping van Moses stel die Here* Homself bekend as die God van Abraham*, Isak* en Jakob*. Hoewel Moses telkens probeer om die Here se op­drag te ontduik, hou die Here aan en openbaar Hy ook sy Naam aan Moses as bevestiging van sy opdrag om die farao te oor­tuig (Eks 2:11–3:22).

Op 80-jarige ouderdom kommunikeer Moses die Here se opdrag aan die farao om die Israeliete te laat trek. Dit neem egter tien wondertekens (Kyk by: Plae) van die Here voordat die farao gehoor gee aan die opdrag om Israel te laat trek (Eks 5:1–12:51). Moses tree as leier tydens die uittog* op en is instrumenteel in die oorwinning oor die Egiptenaars by die Rietsee* (Eks 14–15), as­ook die versorging met kos en water vir die trekkende Israeliete (Eks 16–18).’n Klimaks word bereik met die ontmoeting van Moses met die Here op Sinai*2 en die neerskryf van die Tien Gebooie* (Eks 19–20). Vervol­gens ontvang Moses ook die voorskrifte vir die bou van die tabernakel* (Eks 25–31 en 35–40) en vernietig hy die goue kalf* (Eks 32).

In talle opsigte vorm die boeke van Ekso­dus* tot Deuteronomium* ’n biografie van die lewe van Moses as grondlegger van Is­rael se monoteïstiese (Kyk by: Monoteisme) godsdiens en as die leier van Israel tydens die uittog en die omswerwings in die woestyn op pad na die beloofde land. Dit is egter nie ’n outobiografie in die sin dat hy dit self geskryf het nie. Uiteindelik word die lewensbeskrywing van Moses afgesluit met ’n lied oor die groot dade van God in die verlede en die beskrywing van Moses se sterwe op Nebo* na 120 jaar (Deut 32-34). In die Bybel* word Ps 90 ook aan Moses toege­skryf.

Sidebar