MOT

MOT is die Kanaänitiese* god van die dood, steriliteit en aartsvyand van die god Baäl*. Aan die begin van die tye, lui die mitologiese (Kyk by: Mitologie) verhaal, het Baäl die ko­ningskap van die gode bekom deur Jam, die god van die see, te oorwin. Daarna nooi Baäl al die gode na sy nuwe paleis toe, maar Mot voel beledig deur die feit dat Baäl nie vir hom vleis voorsit nie. Baäl ontken ook die gesag van Mot en verbied hom om enige plek op die aarde te besoek, behalwe die woestyne. Mot nooi daarna vir Baäl na die onderwêreld (of doderyk waar hy regeer) en Baäl is nie in staat om die besoek te vermy nie. In die doderyk word Baäl deur Mot doodgemaak. Die godin Anat* gaan haal egter Baäl se liggaam en hy word weer lewendig. Volgens die Kanaäni­tiese mitologie vind daar steeds een keer per jaar ’n geveg tot die dood tussen Mot en Baäl plaas. Slegs nadat Baäl vir Mot oorwin het, was die vrugbaarheid van die land, diere en mense vir nog ’n seisoen verseker. ’n Groot deel van ons kennis oor die Kanaä­nitiese godsdiens kom van argeologiese opgrawings wat by Ugarit* in die noordelike kusstrook van Fenisië gedoen is.

 

Sidebar