MOTIEWE

MOTIEWE. Die woord “motief” is afgelei van die Latynse woord motus wat afkoms­tig is van movere waarin ’n mens die Engelse woord move herken. Dit dui op die interne faktore wat ’n mens beweeg tot handeling. Vir heelwat mense sluit dit ook oogmerke, voornemens, begeertes en/of behoeftes in.

Soms is ’n mens se optrede goed, maar die motief verkeerd – iemand gaan bv vir die behandeling van ’n probleem bloot om sy vrou of werkgewer tevrede te stel. Ander kere is ’n handeling weer sleg, maar die motief goed – uit deernis of dank­baarheid gee jy vir iemand geld terwyl jy weet die persoon gaan dit nie reg gebruik nie.

Dit is belangrik om die regverdiging vir ’n sekere optrede te onderskei van die motief/motiewe daarvoor. Regverdiging word gewoonlik gebruik om aan te toon waar­om ’n optrede reg is. Alhoewel regver­di­ging ook as motivering kán dien vir seke­re handelinge, ontspring optrede gewoonlik in ander motiewe.

Teorieë wat motiewe probeer definieer, word normaalweg geklassifiseer op grond van instinkte, emosie en rede. Dikwels tref ’n mens ook gemengde en gekompliseerde motiewe ten opsigte van ’n sekere hande­ling aan wat die verstaan en evaluering van die motief/motiewe vir so ’n handeling kan bemoeilik.

Sidebar