MOTT, JOHN RALEIGH

MOTT, JOHN RALEIGH (1865–1955). Op 14-jarige ouderdom kom Mott tot be­kering in ’n Metodistegemeente (Kyk by: Metodisme) in Iowa wat ’n geestelike opwekking beleef het. As student in die regte aan die Cornell-Univer­siteit, word hy diep geraak deur die internasionale sendingbeweging wat grootliks deur DL Moody* aangevuur is. In 1888 word hy voorsitter van die Studente-Vry­willigerbeweging, ’n organisasie wat kandidate vir die sending* werf.

Hy maak kontak met die behoeftes en omstandighede van die jonger kerke in Afrika* en die Ooste, en besef gou dat inter­kerklike samewerking van die uiterste belang is. Dit maak hom die belangrikste dryfveer agter die Internasionale Sending­kon­ferensie* wat in 1910 in Edinburgh gehou is. In 1921 dien hy ook as voorsitter van die eerste Internasionale Sendingraad. In 1946 word hy die mede-ontvanger van die Nobelprys vir Vrede. Hier­na was hy nou betrokke by verskeie konferensies wat gelei het tot die stigting van die Wêreldraad van Kerke* in Amster­dam, waarvan hy medevoorsitter was (1948).

Sidebar