MUKASA, JOSEPH (BALIKUDDEMBE)

MUKASA, JOSEPH (BALIKUDDEMBE) (circa 1860–1885) is langs die Victo­riameer in die Buganda-koninkryk gebore. Toe hy 14 jaar oud was, is hy vir koning Mutesa I aangebied om een van sy talle “hofknape” (jong seuns wat diens gedoen het in die koning se huishouding) te wees. Mukasa (of Mkasa) het indruk op sy leermeesters gemaak en hy was gewild onder sy medehofknape. In 1880 het hy by die Katolieke Kerk* aangesluit en met sy vierjaarlange doopkategese begin. Hy was in ’n vertrouensposisie teenoor koning Mutesa I tot die koning se dood. Toe Mwanga ko­ning word, het hy Mukasa as sy persoonlike assistent behou. Hy is ook as hoof van die koninklike huishouding aangestel. Vroeg in 1885 het hy ’n komplot om die koning dood te maak, gefnuik. Hy het egter die ko­ning se argwaan gewek deur die hofknape van die koning se seksuele toenade­rings te beskerm en openlik doopkategeseklasse in die paleis aan te bied. Teen die einde van 1885 het Mwanga James Hannington* laat vermoor. Mukasa het die koning ernstig hieroor aangespreek. Die koning het woedend geword en gelas dat Mukasa dadelik verbrand word. Die koning se beul het van Mukasa gehou en die vonnis uitgestel met die hoop dat die koning van plan sou verander. Vier dae later is Mukasa weggelei – hy het geweier om vasgebind te word. Die beul het eers sy kop afgekap sodat hy nie moes ly nie, en hom toe verbrand. Mukasa is in 1964 deur pous Paulus IV gekano­niseer* en heilig verklaar.

Sidebar