MÜLLER, BETHEL ANTONIE

MÜLLER, BETHEL ANTONIE (1931–2017) het in 1951 aan die Universiteit van Kaapstad BScIng verwerf, maar die oortui­ging dat hy predikant* moet word, het hom daarna teologie* op Stellenbosch laat stu­deer. Hy promoveer aan die Vrije Univer­siteit* van Amsterdam met Die lewende Woord aan die mens van die hede. Hy was NG pre­dikant van George en Stellenboch-Sentraal, en word in 1971 dosent aan die Teologiese Kweekskool*, Stellenbosch. Dit is veral in die vakgebied homiletiek* (preekkunde) dat Müller ’n blywende bydrae gelewer het. In 1977 begin hy met ’n navorsingsprojek oor die hermeneutiese (Kyk by: Hermeneutiek)  implikasies van die homiletiek. Dit lei tot ’n kontraknavorsingstoekenning vir studie oor prediking* en intergroepverhou­dings. Hy volg hierdie navorsing op met ’n projek oor Woordverkondiging deur middel van die radio en televisie. Hy raak bewus van die toenemende dinamika van spiritualiteit* onder swart gelowiges en onderneem ’n navorsingprojek oor Skrif*gebruik in die sg onafhanklike kerke (Kyk by: Afrika-inisiatief kerke).

Müller bedryf sy teologie vanuit ’n gere­for­meerde* perspektief waarin “publieke Woord­verkondiging” ’n sentrale rol speel. Hy was ‘n homileet wat die aanbiddings­ruimte van die “katedraal” en die fluitspel van die geloof kon laat sinkroniseer met die speel- en werkruimte van die “markplein”. Hy was die homileet vir “aardse mense” wat soek na menswaardigheid, versoening, die eenheid van die kerk en samelewingsgereg­tigheid. Hy was ’n medeondertekenaar van die Hervormingsdaggetuienis* van 1980 wat krities was oor die destydse staatsbeleid van apartheid* en die NG Kerk* se houding daarteenoor. Müller was mederedakteur van die Woord teen die Lig-reeks – eksegetiese (Kyk by: Eksegese) studies met die oog op die prediking – en het daarmee die gehalte van die gereformeerde predi­king in Suid-Afrika help verhoog.

Sidebar