MULLER, ELISABETH (ELISE)

MULLER, ELISABETH (ELISE) (1919–1985) is as pastoriedogter op Ceres gebore. Haar grootwordjare is in die Noordweste – ’n voedingsbron vir haar vroeë literêre werk. Sy het lank as uitgewersredakteur by NG Kerk-uitgewers in Kaapstad gewerk. Haar gesondheid was dikwels nie na wense nie. Tussen 1941–1956 skryf sy vyf romans, ’n jeugverhaal en publiseer sy ’n kortverhaalbundel, Die vrou op die skuit (1956), waarvoor sy die Hertzogprys ontvang het. Die verhale het byna almal as tema die onthullende oomblik van dieper insig wat in ’n mens se lewe kan kom ná ’n besondere saamloop van omstandighede. Die verhale word gekenmerk deur ’n fyn struktuur, genuanseerde dramatiese opbou tot ’n krisissituasie waar die hoofkarakter, met ’n nuwe blik op die werklikheid, vanuit ’n stel godsdienstige waardes, met die dood, ander se nood en die self gekonfronteer word. Dit getuig van medelye met alle “ontworteldes”. Kinders, plaasmense, kleindorpsebewonders en bruin­mense bevolk haar verhale. Hierdie mense word slegs deur fyn waarneming van die gewone en die alledaagse onderskei en dan word hulle herken as draers van die insig dat elke menselot ’n unieke patroon aanneem. Die wilde loot (1954) is ’n studie van menslike verhoudings waarin die verlore seun-motief in romanvorm uitgewerk word.

Sidebar