MÜLLER, JACOBUS JOHANNES (JAC)

MÜLLER, JACOBUS JOHANNES (JAC) (1906–1977) is op Mooispruit in die distrik Reitz gebore, studeer teologie* op Stellenbosch, behaal daar ook ’n MA in Grieks*, en verwerf sy doktorsgraad in 1931 met ’n proefskrif oor Die Kenosisleer in die Kristologie sedert die Reformasie aan die Vrije Universiteit* van Amsterdam. Dit was ’n aktuele onderwerp in die lig van die destydse Johannes du Plessis*-saak. Later behaal hy ’n tweede doktorsgraad aan Unisa met ’n proefskrif oor die Christelike sektewese (Kyk by: Sekte). Hy was predikant* van vier NG gemeentes voordat hy in 1946 met sy diens­tyd van digby die dertig jaar as professor in Nuwe Testament* aan die Teologiese Kweek­skool* op Stellenbosch begin het. Müller was ook skriba en assessor (ondervoorsitter) van die Kaapse si­node*. Hy het met die eerste Bybelkorre­spondensiekursus vir lidmate van die NG Kerk* begin, het onder die skuilnaam “Soe­ker” 28 jaar lank die rubriek “Geestelike Waardes” in Die Burger behartig, en was 15 jaar lank vir “Vraebus” in Die Kerkbode* verantwoordelik. Hy het talle boeke geskryf, onder meer oor die Christelike toekomsverwagting en Bybelkommentare. Müller was ’n begaafde prediker en het nie geskroom om sy standpunt oor aktuele sake te stel nie. In sy teologie was hy behoudend en met sy geskrifte het hy ’n groot bydrae gemaak om die Bybelse* boodskap in verstaanbare taal by die mense van sy tyd uit te bring.

Sidebar