MÜLLER, JULIAN CORNELIS

MÜLLER, JULIAN CORNELIS (1946–) is in Nigel gebore. Hy voltooi sy laer en hoërskoolloopbaan in sy tuisdorp en sy teologiese* studie aan die Universiteit van Pretoria. In sy eerste NG Kerk*-gemeente, Johannes­burg-Oos, ontwikkel hy ’n aanvoeling vir die polsende stad en die vreugdes en nood van mense in die stad. Universiteitsoord leer hom om hom in die wêreld en denke van soekende jongmense in te leef. Alhoe­wel Müller in die homiletiek* (preekkunde) onder promotorskap van prof AC Barnard* oor ’n eietydse homilie promoveer, maak sy benoeming as professor in 1990 die weg oop na die pastoraat (Kyk by: Pastorale beraad; Pastorale Sielkunde; Pastorale sorg). Müller ontwerp ’n narratiewe pastoraat wat veral in Suid-Afrika wye navolging vind. Sy denke en invloed word op talle studente oorgedra. Terwyl Müller in 1992 met die Andrew Murrayprys* bekroon is vir Die erediens as fees, is dit veral op die gebied van die narratiewe pastoraat dat hy betekenisvolle artikels en boeke geskryf het. In die RGN-reeks het hy Om tot verhaal te kom. Pastorale gesinsterapie (1996) geskryf. In 1999 publiseer hy ’n elektroniese publikasie, Companions on the Journey. The Art of Narrative Counselling. Hierin gee hy rekenskap van sy nadenke oor die narratiewe pastoraat.

Müller se drieluik, Opstanding (2006), Om te mag twyfel (2010) en Geloof anderkant Sondag (2014), ontlok heelwat polemiek. In hierdie boeke wil Müller “uitreik  na diegene op die geloofseiland: die gelowiges buite die magsirkel en gemaksone van die georganiseerde godsdiens en die kerk. Ek besef wel dat sommige mense dit kan sien as ’n wegswem van die kerk af. Dit is egter glad nie die geval nie. Ek wil wel aandui dat die geloof en meer bepaald die Christelike geloof ook – soms selfs juis – ‘anderkant Sondag’ (buite die tradisionele kerklike strukture) te vinde is” (Geloof anderkant Sondag, 2014. Kaapstad: Tafelberg, bl 19, 20).  Juis omdat Müller nuut dink en formuleer, word hy soms misverstaan, of weier mense om saam met hom buite geykte patrone te dink. Müller was hoofmedewerker: praktiese teologie van die gedrukte uitgawe van die Christelike Kernen­siklopedie (2008).

Sidebar