MÜLLER, PETRONELLA HELENA (PETRA)

MÜLLER, PETRONELLA HELENA (PETRA) (1935–), Hertzogpryswenner vir poësie, het ’n aantal eksplisiet-godsdiens­tige gedigte geskryf, en ’n religieuse besef is in ’n groot deel van haar werk aanwesig, al is dit in die onderbewuste. In haar eerste bundel, Obool (1977), skryf sy ’n aantal gedigte oor Ou-Testamentiese* profete*; haar tweede bundel, Patria (1979), eindig met ’n reeks gedigte oor Bybel*figure; haar derde bundel, Liedere van land en see (1984), bevat ’n groep gedigte oor die méns Jesus* Christus*. Sy worstel met die sin van dood en lewe in Swerfgesange vir Susan en ander (1997), wat handel oor die dood van drie mense naby aan haar, soos ook weer in Die aandag van jou oë (2002), wat aansluit by die dood van haar man, Wilhelm Grütter. Waar sy plek-plek in Swerfgesange die verskrikking van die dood as ’t ware ómdig tot iets meer vreugdevols, wil Die aandag van jou oë hulde bring aan die lewe én die dood, wil dit die aarde en die liefde in die aangesig van “’n ander horison” en van verganklikheid besing in wat meermale aangry­pende poësie word.

 

Sidebar