MURRAY, ANDREW CHARLES

MURRAY, ANDREW CHARLES (1862–1936) was die seun van ds Charles Murray. Ná die voltooiing van sy teologiese studie in 1886 aan die Teologiese Kweekskool* op Stellenbosch, volg hy ’n kursus in genees­kunde in Edinburgh, Skotland, as voorbereiding vir die buitelandse sending*. Murray het in Junie 1888 na Njassaland (tans Mala­wi) vertrek as eerste verteenwoordiger van die Predikante-sendingvereniging. Hy en eerw TCB Vlok het hier waardevolle grondslae vir die NG Kerk* se sendingwerk gelê. Hy moes egter die sendingveld in 1900 weens swak gesondheid verlaat en verrig toe hulpdiens in verskeie gemeentes en werk as dosent by die Sendinginstituut*, Wellington. Van 1906 tot 1910 arbei Murray op Heidelberg (Wes-Kaap), en in April 1910 word hy sendingsekretaris van die NG Kerk in die Kaapprovinsie. Hy het tot met sy emeritaat in 1928 die sendingsaak met entoesiasme en bekwaamheid bevorder.

Murray het in 1902 begin met die publikasie van die sendingblad, De Konings­bode. Dit is later deur die algemene sen­dingkommissie oorgeneem. Ná sy aftrede wy Murray sy maandblad, Die oorvloedige lewe, aan geestelike verdieping. Vanaf 1931 was hy  verantwoordelik vir die aanbieding van Sondagskoollesse in Die Kerkbode*. Hy was ook betrokke by die vertaling van die Bybel* in Chichewa.

Sidebar