MURRAY, JOHN

MURRAY, JOHN (1826–1882) is in die pastorie op Graaff-Reinet gebore as oudste seun van ds Andrew Murray*1. Op 12-jarige ouderdom stuur sy pa hom en sy broer Andrew*2 na Skotland vir skoling onder die wakende oog van hulle oom, dr John Murray van Aberdeen. John was ’n ernstige mens en flukse student, eers aan die Grammar School en toe aan Marischal College. In 1845 het albei broers, wat toe reeds hulle MA verwerf het, na Utrecht in Nederland vertrek vir teologiese* opleiding. Terug in Suid-Afrika, word John beroep na sy eerste en enigste gemeente, Burgersdorp, waar hy in 1849 bevestig is en gedien het tot 1858. Sy besoeke aan die afgeleë plase het hom onder die indruk gebring van die behoefte aan lektuur en opvoeding. Sy bekendste twee werke is sy De Kinderbijbel in 1853 en sy Catechisatie Boek in 1857 – hierdie boek is tot diep in die 20ste eeu gebruik en is selfs in 1925 in Afrikaans vertaal.

Murray is in 1858 as een van die eerste twee professore na die Teologiese Kweekskool* op Stellen­bosch beroep en wel om dogmatiek* te doseer. Hy is ook verkies tot een van die eerste lede van die Universiteitsraad, waarin hy tot met sy dood gedien het. Hy het saam met NJ Hof­meyr* en J Neethling* die beroemde “drie­manskap” van Stellenbosch gevorm. Hy was, skryf Vincent Brümmer in sy boek Vroom of regsinnig?, eerder ’n mistikus as ’n konfessionalis … die “regsinnigheid van die hart” was vir hom, soos vir Hofmeyr en Andrew Murray2, belangriker as die “regsinnigheid van die leer”.

Toe hy kort ná sy aanstelling as professor deur sy almal mater, Marischal College, ’n eredoktorsgraad aangebied is, het hy dit van die hand gewys, omdat hy hom nie bewus was van iets wat hy gedoen het om dit te verdien nie.

Vir verdere lees: PB van der Watt 1979. John Murray: 1826–1882. Die eerste Stellenbosse professor. Pretoria: NGKB. Vincent Brümmer 2013. Vroom of regsinnig? Teologie in die NG Kerk. Wellington: Bybel-Media.

 

Sidebar