MURRAY1, ANDREW (SR)

MURRAY1, ANDREW (SR) (1794–1866) het sy teologiese opleiding aan die Universiteit van Aberdeen in Skotland ontvang. Hy kom in 1822 in die Kaap aan as een van die Skotse* predikante wat gewerf is om die tekort aan leraars op te los en die verengelsing van die Kaapkolonie aan te help. Hy word predikant van Graaff-Reinet. Op 31-jarige leeftyd trou hy met die 16-jarige Maria Susanna Magdalena Stegmann (1809–1889). Murray het vir die volgende 44 jaar tot met sy afsterwe in Graaff-Reinet gewerk waarna hy deur sy seun, Charles (1833–1904), opgevolg is. In sy dienstyd het verskeie dorpe en gemeentes in die omge­wing ontstaan, soos Murraysburg (na Mur­ray vernoem), Aberdeen (na sy alma mater en tuisdorp vernoem), Colesberg en Mid­del­burg. Murray is in 1834 as skriba en in 1837 as moderator* van die Kaapse sinode* verkies. Hy het ook ’n groot rol gespeel in die stigting van die NG Sendingkerk* in 1881 op Wellington.

Van Murray se 16 kinders het al vyf seuns predikante geword en vier dogters is met pre­di­kante getroud, terwyl vyf van die kinders jonk dood is. Sy na hom genoemde seun, dr Andrew Murray*2, sou diep spore trap en, soos sy pa, moderator van die sinode word. Die ander twee kinders het nooit getrou nie. Murray het uiteindelik 108 kleinkinders gehad. Murray se pastorie op Graaf-Reinet, Reinet-huis, is ’n historiese gedenkwaardig­heid.

Sidebar