MURRAY2, ANDREW (JR)

MURRAY2, ANDREW (JR) (1828–1917) is op Graaff-Reinet vir ds Andrew*1 en Maria Murray gebore. Op tienjarige ouderdom gaan hy en sy broer, John*, vir hulle skool- en naskoolse opleiding na Aberdeen in Skotland.  Hy voltooi ’n MA en vertrek daarna na Utrecht, Nederland, om in die teologie* te studeer. In 1849 word hy die predikant* van Bloemfontein, en hy was daarna predikant van Worcester, die Groote Kerk (Kaapstad), en Wellington. Murray was ’n begaafde en begeesterde kerkleier wat by ses geleenthede as moderator* van die Kaapse sinode* gedien het. Hy het ’n groot bydrae gelewer as vérsiende onderwysfi­guur, vrome sending*ondersteuner, praktiese strateeg, spirituele mens, evangelis, herlewingsgesinde en vriend van die jeug. Murray was onvermoeide organiseerder, kerkstigter in die Noorde en internasionaal bekende skrywer met meer as 200 publikasies uit sy pen – waarvan sommige in verskeie tale vertaal is en vandag nog herdrukke beleef. Krisisse in sy lewe was sy langdurige keelaandoening wat meegebring het dat hy lank nie kon preek nie, en die dood van sy familielid en medepredi­kant, Pieter Hugo, aan tering, omdat dit Murray se oortuigings oor geloofsgenesing, waaroor hy ook boeke geskryf het, in die gedrang gebring het. Hy was grondlêer van die Jongeliede-vereniging, die Goeie Hoop-meisieskool, die sendelingopleiding op Wellington, die Hugenote-seminarium en die Hugenote-meisieskool op Wellington, asook ander meisieskole. Murray het hom verset teen die destydse “liberale rigting” in die kerk. In die weke voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog* in 1899 het Murray ’n dringende brief aan die Britse parlement en volk geskryf waarin hy gepleit het dat Groot-Brittanje moes afsien van sy oorlog teen van die kleinste state in die wêreld, die Vrystaatse en Zuid-Afrikaansche republieke. Soos ander destydse vredespogings, het Murray se brief egter ook nie die gewenste uitwerking gehad nie.

Murray het ’n evangeliese en vroomheids­teologie voorgestaan wat nog altyd respek afdwing, al kan kritiek teen aspekte daarvan ingebring word. Murray se standbeeld voor die Groote Kerk, met sy een hand op die Bybel* en ’n vermanende vinger, tipeer hom en die NG Kerk* se bediening in die 19de eeu: dit was die kerk se boodskap dat gehoorsaam aan God geleef moet word met die Bybel as rigsnoer in onsekere en dikwels stormagtige tye. In 1978, met die 150ste herdenking van sy geboortedag, is die Andrew Murrayprys* ingestel vir Afri­kaanse teologiese en algemene publikasies, na hom vernoem omdat Murray ongetwy­feld een van die invloedrykste skrywers van godsdienstige boeke is wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Later is die Andrew Murray-Desmond Tutuprys naas die Andrew Murrayprys   ingestel met die koppeling van dié twee name ’n besondere teken van versoening.

Vir verdere lees: J du Plessis 1919. The Life of Andrew Murray of South Africa. Londen: Marshall Morgan and Scott. George Hofmeyr (hoofred) 2002. NG Kerk 350: Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1552–2002. Wellington: Lux Verbi.BM. Vincent Brümmer 2014. Vroom of regsinnig? Wellington: Bybel-Media.

 

Sidebar