MUSIEK

MUSIEK, miskien méér as enige ander kunsvorm, bring die diepste emosies in mense na vore. Kunstenaars én luisteraars word geïnspireer en meegesleur deur die klanke wat na vore gebring word, wat hulle diepste emosies en ervarings, hulle vreugde, liefde, pyn, stryd en oorwinning vertolk. In die Bybel* speel musiek ’n groot rol. Jubal, die seun van Lameg, word as die stamvader van “dié wat op die lier en die fluit speel” beskou (Gen 4:21). Die volk van die Here* was deur al die eeue ’n singende volk: in die tabernakel* en in die tempel* is gesing, op die slagveld is liedere aangehef, Dawid* het sy psalms*, sy ernstigste gebede, voor die Here uitgesing. Met die inwyding van die tempel*1 van Salomo* was dit toe die trompetblasers en die sangers, saam met al die ander spelers, hulle musiek aangehef het, dat ’n wolk – “die magtige teenwoor­digheid van God” (2 Kron 5:13) – die huis van die Here gevul het. Ook die lewe van die Here Jesus* is met musiek omgewe. Sy geboorte is deur singende engele aange­kon­dig (Luk 2:13 en volgende verse). Net voor sy kruisdood het Jesus met sy dissipels aan tafel, die lofsang gesing (Matt 26:30). Die eerste gemeente* was ’n singende gemeente (Hand 16:15, Kol 3:16). In die heel laaste Bybelboek, Openbaring*, word vertel hoe daar in die hemel musiek gemaak word (Op 5:9 en volgende verse). In die lewe van Christene speel musiek ’n onvervangbare rol. Kerkmusiek (oratoria, misse, kantates, koorwerke, liedere) wat deur die eeue gekomponeer is, dra ons gebede en vertolk ons diepste geloofsoortuigings. Maar ook by die luister na musiek wat nie direk as geestelike musiek gekomponeer is nie, ervaar gelowiges baiekeer die teenwoor­dig­heid van die Here. Moderne teoloë soos Karl Barth* en Hans Küng* maak dikwels melding van hulle waardering vir kompo­niste soos Mozart in wie se musiek hulle die “stem van God” hoor.

NB: MUSIEKINSTRUMENTE VAN DIE BYBEL: TABELLE SOOS IN GEDRUKTE CKE, BL 768, 769, 770.

 

Sidebar