MWAKANANDI, DOLB SIMION

MWAKANANDI, DOLB SIMION (1936–) is ’n boorling van Noord-Malawi. Hy word op die Katete-stasie van die NG Kerk*-sen­ding* in Zambië as onderwyser opgelei en dien in die Reformed Church in Zambia. Daarna voltooi hy sy studie as predikant in Malawi en aanvaar ’n beroep na die Harare-sinode van die Kerk van Midde-Afrika, Presbiteri­aans (KMAP), in Zimbabwe. Daar lewer hy ’n waardevolle bydrae. Onder andere vervul hy ’n versoeningsrol tussen KMAP-lidmate uit die noorde van Malawi en dié uit die sentrale en suidelike gebiede. Hy dien vir verskeie termyne as moderator*. Intussen studeer hy verder, eers aan Calvin College in Grand Rapids en daarna aan die Univer­siteit van Stellen­bosch waar hy in 1990 ’n doktorsgraad in die missiologie (sendingwetenskap*) behaal. Ná sy aftrede in Zimbabwe, word hy terugge­roep as dosent en prinsipaal van die Zomba-Teologiese Kollege in Malawi. Hy tree in 2002 vir ’n tweede keer af, maar word weer eens teruggeroep toe die Sinode van Livingstonia hom versoek om ’n bui­ten­gewone opleidingsprogram vir predi­kante te Mzuzu in Noord-Malawi op hom te neem.

Vir verdere lees: JM Cronje 1981. Aan God die dank: Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk, Deel 2. Pretoria: NGKB. CM Pauw 1980. Mission and Church in Malawi: The History of the Nkhoma Synod of the Church of Central Africa, Presby­terian. 1889–1962. DTh, Universiteit van Stellenbosch.

Sidebar