MWALE, JOSOPHAT STEVEN

MWALE, JOSOPHAT STEVEN (1906–2003) was een van merkwaardigste ouer garde-leiers in die Kerk van Midde Afrika, Presbiteriaans, in Malawi. Hy dien as onderwyser en skoolhoof en word in 1947 tot die bediening toegelaat. In 1960 word hy die eerste Malawiese moderator* van Nkhoma-sinode. ’n Jaar later lei hy ’n groep van ses Malawi-predikante op ’n historiese besoek aan Suid-Afrika. Tydens daardie besoek word hy die eerste swartman ooit om die Kaapse sinode van die NG Kerk* toe te spreek. Hy lei die Nkhoma-sinode in die proses waarin die werk van die NG sending* in 1962 oorgedra word. Sy 21 jaar as lid van die moderamen sluit vier termyne as mo­derator in. Hy was die eerste voltydse Mala­wi-dosent aan die kerk se teologiese* skool en word later direkteur van die Namon Katengeza Lay Training Centre. Hy publiseer onder andere ’n handboek vir ouderlinge* wat vyftig jaar later steeds gebruik

word. Met sy dood op 97 verloor die kerk ’n geestelike leier van onmeetbare formaat. Hy sal veral onthou word vir sy diep spiritualiteit*. Die kerk se teologiese inrigting op Nkhoma is in 2006 na hom vernoem: die Josophat Mwale Theological Institute.

Vir verdere lees: JM Cronje 1981. Aan God die dank: Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk, Deel 2. Pretoria: NGKB. CM Pauw 1980. Mission and Church in Malawi: The History of the Nkhoma Synod of the Church of Central Africa, Presby­terian. 1889–1962. DTh, Universiteit van Stellenbosch.

 

Sidebar