NAAM VAN GOD

NAAM VAN GOD. Die Hebreeuse* El of verwante terme soos elohim, el eljoon is, streng gesproke, nie vorms van die naam van die Bybelse* God nie. El en sy meervoud elohim word ook gebruik vir heiden­se* “god” en “gode”, en kan dus nie in alle kontekste as na­me van die Bybelse God beskou word nie. Selfs samestellings soos el eljon (“die allerhoogste God”) of el sjaddai (“God die Almagtige”) is beskrywings wat nie uitsluitlik vir die Bybelse God gebruik is nie, en is dus, streng gesproke, nie eiename nie. Die enigste Naam van God is die Naam wat God self aan Moses* bekend gemaak het op die vraag Wie hom stuur: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur” (Eks 3:14). Die Hebreeuse woord wat met “Ek is” vertaal is, is die sg tetragrammon JHWH*, die He­breeu­se medeklinkers jhwh. Hoe dié woord uitgespreek moet word, is onseker, hoewel “Jahweh” die meeste steun geniet. In die oorspronklike Hebreeus is die klinkers nie aangedui nie en Jode* spreek van oudsher af nie die naam JHWH uit nie, omdat dit te heilig* is. In plaas van JHWH, gebruik Jode gewoonlik die woord adonaj*, wat “heer” beteken, of hashem, “die naam”. Die ge­bruik van adonaj het aanleiding gegee tot ’n verkeerde uitspraak, “Jehowa”, wat ont­staan het deurdat die klinkers van adonaj (a-o-a) saam met die medeklinkers j-h-w-h gebruik is. Wat die etimologiese betekenis van JHWH betref, is dit redelik seker dat dit afgelei is van die werkwoord haja, “om te wees”. Vandaar die vertaling van JHWH as “Ek is wat Ek is” (1983-Afrikaanse Vertaling), of dalk “Ek sal wees wat Ek sal wees”.

Sidebar