NABOT

NABOT beteken “vrugte”. Nabot was ’n Israeliet* wat in Jisreël* gewoon het en die eienaar van ’n wingerd teen die oostelike hange van die heuwel by Jisreël was. Dit was erfgrond en dit blyk dat hierdie grond ál was wat Nabot besit het. Agab* wou baie graag die wingerd bekom (1 Kon 21:1-2), maar Nabot het geweier om daarvan af­stand te doen. Hy het dit by sy voorvaders geërf en volgens Lev 25:23 kon geen Israe­liet wetlik sy eiendom verkoop nie.

Die feit dat Nabot geweier het om van die grond afstand te doen, het Isebel*, Agab se vrou, woedend gemaak. Sy beraam toe ’n slinkse plan om van Nabot ontslae te raak en om hom en sy seuns te laat vermoor. Isebel het aan twee mans opdrag gegee om vir Nabot in Samaria te veroordeel en te sê dat hulle gehoor het hoe hy God en die koning gevloek het. Nabot en sy kinders is uit die stad uitgesleep en gestenig en die bloed van hulle wonde het in die water van ’n nabygeleë tenk beland (2 Kon 9:26). Elia* het toe ’n vreeslike oordeel oor Agab uitgespreek vanweë sy korrupte dade.

Sidebar