NACHTIGAL, JOHANN ALBRECHT

NACHTIGAL, JOHANN ALBRECHT (1838–1899) was ’n pioniersendeling van die Berlynse Sendinggenootskap in Oos-Transvaal (tans ongeveer Mpumelanga). Hy word in 1861 uitgestuur om onder die Bapedi in Oos-Transvaal te werk. Hy sluit aan by eerw A Merensky en hulle stig ’n sending*stasie Khalatlolu (Olifantskloof) in die gebied van Sekwati. Sekoekoeni, die op­vol­ger van Sekwati, begin sy Christen­onder­dane egter vervolg sodat hulle én die sendelinge* moes vlug, waarna Merensky ’n plaas koop en die Botshabelo-sendingstasie vestig.

Nachtigal werk ook op Lydenburg. Weens ’n keelaandoening wat in 1870 on­suk­ses­vol in Duitsland behandel is, lê hy sy amp in 1872 neer.

In 1879 verhuis hy na Stellenbosch. Sy belangstelling in sendinggeskiedenis* lei tot navorsingswerk oor die vroegste sending­werk in Suid-Afrika. Later keer hy terug na Duitsland en publiseer Die Ältere Heiden­mission in Süd-Afrika in 1891; in 1893 verskyn dit ook in Nederlands.

’n Ongepubliseerde joernaal van Nachti­gal, wat sy verblyf in Suid-Afrika van 1861–1880 uitvoerig dek, word in 1970 deur die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad van die familie gekoop. Dit bevat waardevolle volkekundige en sendinggegewens, as­ook geskiedkundige feite oor die ou Transvaal tot 1880.

Vir verdere lees: WJ de Kock en DW Kru­ger 19862. Suid-Afrikaanse biografiese woor­de­boek, deel 2. Pretoria: RGN. GPJ Trum­pelman (red) 1957. Maléo en Sekoe­konie deur Th Wangemann; uit Duits vertaal deur JFW Grosskopf. Kaapstad: VRV (no 38).

 

Sidebar