NADERE REFORMASIE

NADERE REFORMASIE was die Ne­der­landse variant van die piëtisme* in Duitsland en die puritanisme* (asook die latere metodisme*) in Engeland gedurende die 17de en 18de eeu. Die begrip “Nadere Reformasie” bedoel dat die grondbeginsels van die Reformasie* van die 16de eeu nader uitgewerk wou word. Kort ná die Refor­masie het die ortodoksie* met sy skolas­tieke intellektualisme in die Protestantse* kerke posgevat. Die Nadere Reformasie (en sy variante) was ’n reaksie hierop. Naas leerstellige regsinnigheid, is klem gelê op ’n vroom lewenswandel, die sg “prak­tyk van die godsaligheid”. Uiteraard het dié benadering ’n positiewe uitwerking op die Nederlandse gereformeerde* kerklike lewe gehad. Maar daar was ook nega­tiewe gevolge. Die objektiewe benadering van die ortodoksie het nou omgeslaan in ’n subjektivistiese twyfel aan die sekerheid van die geloof*. Die kenmerke wat ’n weergebore Christen* moet vertoon, het groter nadruk as die vaste beloftes van God in die evangelie* ontvang.

Die werke van bekende skrywers van die Nadere Reformasie, soos B Smijtegelt*, W à Brakel* en J van Lodenstein, is gretig aan die Kaap gelees. HR van Lier* en MC Vos*, is sterk deur die Nadere Reformasie beïnvloed. Dit het waarskynlik die bodem voorberei vir die evangeliese saad wat die Skotse predikante later aan die Kaap gesaai het.

Vir verdere lees: JW Hofmeyr 1989. Die Nederlandse Nadere Reformasie en sy invloed op twee kontinente. Pretoria: Unisa. CJ Malan 1981. Die Nadere Refor­masie. Potchefstroom: PU vir CHO. Vincent Brümmer 2013. Vroom of regsinnig? Wellington: Bybel-Media.

 

Sidebar