NAFTALI

NAFTALI was die sesde seun van Jakob* en tweede seun by Ragel* se slavin, Bilha*. In Jakob se seën word Naftali beskryf as “’n takbok wat vry rondloop” (Gen 49:21). Dit was ook die naam van een van die twaalf stamme van Israel wat gewoonlik geassosieer word met Dan* en laaste voorkom in die lys van stamme (Num 1:15). In Jos 19:32-39 word die grense van dié stamgebied in die beloofde land uiteengesit: ’n Breë, vrugbare strook wes van die See van Galilea, insluitende negentien stede – waaronder die latere Kapernaum*, waar Jesus* Hom gevestig het (Matt 4:13). Van die bekendste persoonlikhede wat die stam opgelewer het, is die rigter Barak* (Rig 4:6) en die hoofargitek van Salomo* se tempel*, Hiram (1 Kon 7:14), terwyl Naftali ook vir Dawid ondersteun het (1 Kron 12:34, 40). Die feit dat die stam die verste noord geleë was, het dit baie kwesbaar gemaak. Daar­om was hulle die eerste van die stamme wat in 734 vC deur Tiglat-Pileser* III van Assirië* in ballingskap*1 weggevoer is (2 Kon 15:20).

 

Sidebar