NAGMAAL

NAGMAAL beeld vir ons sintuie af wat God deur sy Woord* aan ons te kenne gee en deur sy Heilige Gees* in ons doen. Die nagmaal is nie net tekens van die heil* nie, maar ook seëls van die heil: dit bevestig aan ons persoonlik die heil wat die Woord aan ons toesê. Daarom versterk die nagmaal die geloof*.

Die wese van die nagmaal is communio (Kyk by: Gemeenskap) tussen God en mens. Dit is ’n fees waar gemeenskap met God en mekaar gevier word. Ons word gevoed met die Brood van die lewe. Ons word ook daaraan herinner dat die heil God sy Seun* se lewe gekos het.

Die nagmaal dra die karakter van ’n se­remonie. Dit behoort op vasgestelde en gereelde tye plaas te vind – eerder meer dik­wels as te min. Die nagmaal het ’n her­in­nerende aard – dit herinner ons aan Jesus* Christus* se lyding en sterwe – maar deur die herinnering word die heilsgebeure gekonkretiseer en geaktualiseer vir gelowi­ges van vandag (Kyk ook: Pasgamaal). Ge­re­formeerdes* glo dat Christus self deur sy Gees by die nagmaal teenwoordig is, maar, anders as die Katolieke*, meen hulle dat die brood en wyn self nie van “substansie” verander en by die gebruik daarvan tydens die nagmaal die liggaam en bloed van Christus wórd nie. (Kyk ook: Mis, Eucha­ristie, Transsubstansiasie,  Konsubstan­siasie.)

Sidebar