NAHUM (BYBELBOEK)

NAHUM (BYBELBOEK) is een van drie boeke in die Boek van die Twaalf* wat in die laat-7de eeu vC gedateer word (ook Habakuk* en Sefanja*). Daar is baie min gegewens oor die profeet* self beskikbaar. Volgens vers 1 is hy afkomstig van Elkos, maar daar is geen eenstemmigheid onder geleerdes oor die presiese ligging daarvan nie. Nahum verwys nooit na Jerusalem* nie en Juda* word slegs een keer vermeld (1:15). In teenstelling hiermee is daar verwysings na Basan*, Karmel* en Libanon (1:4). Nahum is waarskynlik uit Assirië* geskryf – daarvan getuig  uitgebreide kennis van Nineve* en talle Assiriese leenwoorde. Die profeet was moontlik ’n afstammeling van die ballinge (Kyk by: Ballingskap*1) uit die Noordryk wat in 722/721 vC deur die Assiriërs wegge­voer is.

Historiese agtergrond: Nahum het waarskynlik ontstaan tussen 663 vC, toe die Egiptiese* hoofstad Tebes (No-Amon in 3:8-9) deur die Assiriërs verower is, en vóór 612 vC toe Nineve verwoes is. Assurbanipal* was in hierdie tyd koning van Assirië, en Manasse* koning van Juda (687–642 vC). Die magtige Assiriese Ryk het vir Juda op politieke, mi­litêre, ekonomiese en godsdienstige gebied onderdruk.

Samestelling en verdeling: Die skrywer van Nahum was ’n knap digter wat beeld­ryke taal gebruik het (bv Nineve is ’n leeuwyfie in 2:11 en ’n bespotting in 3:4-7). Die grootste gedeelte van Nahum vorm ’n eenheid. Daar is egter onsekerheid oor die egtheid van die alfabetiese* psalm in 1:2-8 (eerste 11 letters van die Hebreeuse* alfabet).’n Moontlike verdeling van die boek is: 1:1 (Opskrif); 1:2-8 (Lied oor die Here); 1:9-14 (Onheil oor Nineve, heil vir Juda); 1:15–2:13 (Oordeel oor Nineve); 3:1-19 (Finale ondergang van Nineve).

Boodskap: Sommige teoloë ignoreer hierdie boek omdat daar nie klem gelê word op belangrike etiese* temas nie. Hulle reken dat die profeet uit ’n oormatige nasionalistiese oortuiging optree in plaas daarvan om op sy eie volk se sonde* te konsentreer. Nahum verwys na God wat in beheer is van die totale geskiedenis, selfs van diegene wat nie sy heerskappy wil erken nie. God sorg vir sy volk deurdat Hy hulle vyande in die duisternis injaag (1:2-14). Juda word aangemoedig om hulle ver­troue in die goeie Here* te stel wat reg­ver­dig oordeel (1:2-3, 7). In digterlike taal word die oordeel van God en die misbruik van mag deur Nineve beskryf (hoofstuk 2 en 3). Almal in Nineve word oor dieselfde kam geskeer; daar word nie onderskeid gemaak tussen skuldiges en onskuldiges nie. Daar word ook nêrens in die boek na die Judeërs se eie ongehoorsaamheid verwys nie. Na­hum toon ooreenkomste met Obadja* in die sin dat dit fokus op ’n nasie buite Juda en Israel*. Obadja konsentreer op Edom*, terwyl Nahum te doen het met die Assiriese stad Nineve. Hierdie boeke asook Jona* verwys na die internasionale kant van die profeet se taak en kan vergelyk word met die “uitsprake teen die nasies” wat by die klassieke profete voorkom (Jes 13–27; Jer 46–51; Eseg 25–32). ’n Meer vergewensge­sinde houding teenoor Assirië kom egter in Jona voor. Dit is interessant om daarop te let dat die kerk* sukkel om Nahum se boodskap in die erediens* te gebruik. Nahum en Obadja is die enigste profetiese boeke wat nie in die Revised Common Lectionary (RCL), die leesrooster* wat waarskynlik die wydste in die wêreld gebruik word, voorkom nie.

Vir verdere lees: DL Petersen 2002. The Prophetic Literature: An Introduction. Louisville: Westminster John Knox Press. MA Sweeney 2000. The Twelve Prophets, deel 2 (BerO). Minnesota: Liturgical Press. WJ Wessels 1998. “Nahum, an Uneasy Expression of Yahweh’s Power”. Old Testa­ment Essays 11/3, 615-628. PA Verhoef 2006. Die boek Nahum. Wellington: NGKU.

 

Sidebar