NAMAS EN DIE CHRISTELIKE GE­LOOF

NAMAS EN DIE CHRISTELIKE GE­LOOF. Die Namas bestaan uit: Rooi­nasie, Topnaars, Bondelswarts, Fransmanne (Ko­pers), Velskoendraers, Groot Doden, Swart­boois, Keetmanshopers, Bethaniers, Afri­kaners, Lambertse, Witboois, Berseba­ners. Twee groot groepe word onderskei: die Khoekhoen-* (Khoi-khoi) en die Orlam-stamme. Die Khoekhoen is sedert antieke tye in wat nou bekend is as Namibië en praat Nama. Die Orlam het Kaaps-Hollands gepraat en het suid van die Garieb gewoon. Ná 1770 het die Orlam in Namibië gevestig. Die woord “Orlam” is Maleisies vir “vreem­deling”. Die Nama was nomadies, elk met ’n stamregering en kaptein en teen die 19de eeu dwarsdeur Namibië verspreid.

In Oktober 1806 het die Albrecht-broers van die Lon­dense Sendinggenootskap* die Blijde Uitkomst-sendingstasie te Warmbad begin. Hulle is in 1814 opgevolg deur sende­ling* Heinrich Schmelen, wat bekendheid verwerf het vir verkenningstogte dwarsoor Namibië en uitnodigings aan sendingorgani­sasies, bv die Wesleyaanse Metodiste* en die Rynse sendinggenootskappe. Sy hoofwerk was by kaptein Jaco­bus Frederick te Ui-gantes wat Schmelen “Bethanien” genoem het. Schmelen was ook bevriend met kaptein Jonker Afrikaner en het daarom vir Windhoek sendelinge verkry.

In 1820 het die Wesleyaanse Metodiste ’n eie sending begin. Ná twee rampspoedige pogings (1921, 1925), waartydens sendeling Threlfall en twee assistente vermoor is, het die derde poging van sendeling Edward Cook te Warmbad geslaag (1834). Dit is opgevolg deur Metodiste-sendinge in Leonardville (Tindall, 1842) en Windhoek (Haddy, 1844).

Die grootste werk is gedoen deur die Rynse Sendinggenootskap, wat in 1845 deur sendeling Kleinschmidt te Rehoboth begin is by kaptein Willem Swartbooi. Vandaar het die werk versprei na alle Nama-stamme met baie gemeentes. Stadige vordering met inheemse leierskap het ’n kerkskeuring in 1946 veroorsaak. Toe die sinode* van die Evangelies Lutherse Kerk* in 1957 gevorm is, het die oorblywende Nama-gemeentes daarby ingeskakel. Die Katolieke Kerk* het in die 20ste eeu die Namas in die suide van die land begin bedien.

Vir verdere lees: KFR Budack 1972. Die tra­di­tio­nelle politische Struktur der Khoekhoen in Südwestafrika (Stamm und Stammesregierung, auf historischer Grun­dlage). Ongepubliseerde DPhil-tesis. Unive­r­si­teit van Stellenbosch. GL Buys en SVV Nambala 2003. History of the Church in Namibiaan Introduction. Windhoek: Gams­berg Macmillan.

Sidebar