NAOMI

NAOMI word ná haar man Elimelek* en twee seuns se dood alleen in Moab* saam met haar twee Moabitiese skoon­dogters, Rut* en Orpa*, agtergelaat. Naomi be­sluit om terug te keer na Juda*2, en haar skoondogter Rut vergesel haar. Terug in Juda noem Naomi haarself Mara oftewel “bitter”, wat te verstaan is ná al die verliese wat sy gely het. Sonder enige versorgingsisteem maak Naomi keer op keer ’n plan om haar eie en Rut se oorlewing te verseker. So stuur Naomi vir Rut na die veld van Boas*, ’n ryk landeienaar, om graan wat ná die oes oorgebly het, te gaan optel. Toe Naomi hoor dat Boas belangstelling toon in Rut, moedig sy vir Rut aan om mooi aan te trek en Boas te gaan opsoek by die dors­vloer waar hulle oes. Nadat Rut met Boas getrou en ’n seun in die lewe gebring het, sing die vroue van die buurt ’n loflied waar­in hulle God prys as die Een wat Naomi se lewe herstel het en haar op haar oudag versorg het. Naomi noem die seuntjie Obed*. In Rut 4:17 word Obed beskryf as die seun van Naomi, en word aangedui dat hy ’n voorvader van Dawid* sou wees.

 

Sidebar