NAPIER, WILFRID

NAPIER, WILFRID (1941–) is op Matatie­le gebore en het op sy ouers se plaas in Oos-Griekwaland grootgeword. Hy het op Matatiele en Ixopo skoolgegaan. Daarna was hy die tweede Suid-Afrikaner om by die Franciskaanse Orde aan te sluit. Sy eerste geloftes het hy in 1961 in Killarney, Ierland, afgelê. Ná voltooiing van sy studies in Ierland en België, is hy as priester*2 gewy. Hy het in Lusikisiki, Tabankulu en Kokstad gewerk voordat hy in Desember 1980 biskop* van Kokstad geword het. In Junie 1992 het hy aartsbiskop Denis Hurley* as aartsbiskop van Durban opgevolg. Die Nasionale Universiteit van Ierland het in 1995 ’n eredoktorsgraad vir sy werk in verband met sosiale geregtigheid aan hom toegeken. Pous Johannes Paulus II* het hom in 2001 as kardinaal* benoem.

Napier was twee keer president van die Suid-Afrikaanse Biskopperaad, 1987–1994 en 2000–2006. Hy dien in twee Vati­kaanse departemente: die kongregasie vir die sending onder volke en die kongregasie vir kloosterlinge. Hy was lid van die konklawe (konklaaf = vergadering van kardinale om ’n pous* te kies) wat vir pous Benediktus XVI* en pous Franciskus* verkies het. In 1994 was hy onder die kerkleiers wat met pres Mandela* beraadslaag het, en hy is ’n kampvegter vir Christelike sedes, selfs teen druk van die regering en die massamedia in, indien nodig.

Sidebar