NAPOLEON I, BONAPARTE

NAPOLEON I, BONAPARTE (1769– 1821) is op Ajacio in Korsika gebore en het in 1785 by die Franse leër aangesluit. Hy het spoedig opgang gemaak as generaal in die stryd teen Oostenryk. Hy het die chaos tydens die Franse Rewolusie help beëindig en die rewolusionêre ideale bestry deur sy eiesoortige Napoleontiese Rewolusie waar­in hy die monargie met ’n nuwe keiserlike ideaal vervang het. As Korsikaan was Napo­leon vir die Franse burgerlike stand die simbool van die stryd teen die adel. Hy het sodoende aan die Deklarasie van Mense­regte* nuwe betekenis gegee en met sy skeiding tussen kerk* en staat* die groot invloed van die Katolieke Kerk* in staataangeleenthede beëindig.

Napoleon se ryksambisies het met sy persoonlike charisma ’n nuwe tydperk van Franse glorie en mag op militêre, politieke en diplomatieke vlak ingelei. In 1802 het Napoleon homself as Franse keiser ge­kroon. Deur sy Kode Napoleon het hy die Franse regstelsel ingrypend hervorm, en deur die konkordaat (1801) met die pous* het hy die kerk ondergeskik aan die staat gestel. Met Napoleon se merkwaardige mi­litêre oorwinnings by Austerlitz (1805) en Jena (1806) het hy die Russiese en Oosten­rykse mag en invloedsfeer in Europa verswak, maar sy pogings om Brittanje tot oorgawe te dwing, het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Die Russiese veldtog van 1812 het uiteindelik tot Napoleon en sy troepe se nederlaag tydens die Slag van Leipzig gelei. Hy is toe na Elba verban vanwaar hy in 1814 ontsnap het. Napoleon se triomftog na Parys het hom weer van 20 Maart 1815 af aan bewind geplaas totdat hy in die beslissende Slag van Waterloo op 18 Junie 1815 verslaan en na St Helena-eiland verban is. Hier het Napoleon I in 1821 as eensame gevangene gesterf.

Napoleon se historiese belangrikheid uit godsdienstig-kerklike oogpunt, is veral sy skeiding tussen kerk en staat en, uiteindelik, sy ondergeskikstelling van die kerk aan die staat.

Sidebar