NARRATIEWE PASTORALE BE­RAAD

NARRATIEWE PASTORALE BE­RAAD, of verhalende pastorale beraad, het in noue samehang met die postmoderne* denke en narratiewe terapie ontwikkel, terwyl dit tegelyk ook voortvloei uit narra­tiewe teologie*. Dit verskil van ander ge­spreksbenaderings deurdat die verhaal van die gespreksgenoot nie eerstens as ’n bron van inligting gebruik word nie. Daar word uitgegaan van die standpunt dat mense verhale vertel en gedurig hervertel om so­doende hulle eie lewe te konstrueer. In die gespreksituasie word daar op so ’n manier na verhale geluister en verhale hervertel sodat terapeutiese doelwitte daarmee bereik kan word.

Patologie word verduidelik in terme van ’n doodgeloopte verhaal. ’n Probleem word ondervind of patologie ontstaan as die toekomsverhaal ’n verduisterde een is. Ver­an­dering is moontlik deur die verledeverhaal te herinterpreteer wat nuwe deure na die toekoms laat oopgaan. Sy gespreks­genoot se verhaal bied dus nie net allerlei wonderlike insigte sodat die terapeut al sy tegnieke kan gebruik om die gespreks­genoot te verander nie. Die verhaal word nuut vertel sodat die gespreksgenoot weer sy/haar bestaan as betekenisvol kan beleef. In hierdie benadering kom die pastor dus nie met die oplossing vorendag nie. Daar word eerder saam gesoek na unieke uitkomste in die verhaal van die gespreks­genoot.

Vir verdere lees: J Müller 1996. Om tot verhaal te kom: Pastorale gesinsterapie. Pretoria: RGN. J Müller 2000. Reis-geselskap: Die kuns van verhalende pastorale gesprek­voering. Wellington: Lux Verbi.BM. E Kotzé en D Kotzé (red) 2001. Telling Narratives: Spellbound Edition. Pretoria: Ethics Alive.

 

Sidebar