NASARET

NASARET is die dorp in laer-Galilea waar Jesus* grootgeword het (Luk 2:39, 51), geleë net noord van die Jisreëlvlakte*, ongeveer 25 km wes van die See van Galilea* en 33 km oos van die Middellandse See. Aan die begin van die eerste eeu nC was dit om­trent 900 x 200 m in omvang, met ’n be­volking van nie meer as 480 nie. Van Nasaret af het Jesus sy bediening in Gali­lea begin. Daar was ’n sinagoge* waar Jesus by geleentheid gepreek het. Hy is nie goed ontvang nie, trouens, die mense wou Hom doodmaak (Luk 4:16-30). Dat Jesus van Nasaret afkomstig was, het nie altyd ’n positiewe reaksie by mense ontlok nie (Joh 1:45-46).

Sedert 1890 het argeologiese* opgrawings in die omgewing van die Kerk van St Josef en die Kerk van die Aankondiging in Nasa­ret plaasgevind. Daar is bewyse van ’n rituele* bad uit die 2de/3de eeu, waarskynlik vir Joodse Christene, ’n sinagoge wat bo-oor die bad gebou is (4de eeu), en ’n kerk en klooster* uit die 5de eeu wat die vloer van die sinagoge benut het.

Sidebar