NASIONAAL-SOSIALISME (NAZÏS­ME).

NASIONAAL-SOSIALISME (NAZÏS­ME). In die nasleep van die Eerste Wê­reldoorlog* ontstaan heelwat politieke partye in Duitsland vanweë ontevredenheid oor die beperkings wat met die Vrede van Versailles aan Duitsland opgelê is. Een van die partye was die Duitse Arbeidersparty wat deur Adolf Hitler* na die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (NSDAP) herdoop is. Hiermee saam is ’n twintig­punt­program aanvaar, waarvan antisemi­tisme* die belangrikste programpunt sou word. Na ’n mislukte staatsgreep in No­vember 1923, kry Hitler vyf jaar gevangenisstraf, waarvan hy slegs een jaar uitdien. In die tronk skryf hy Mein Kampf (1925). Die wêreldbeskouing onderliggend aan dié boek is ’n strewe na ’n samelewing op rassistiese gronde (Kyk by: Rassisme). Hitler wou alle Duitsers (“Ariërs”– vir hom by uitstek blanke/blonde Noord-Germaniërs) in ’n Grootduitse ryk verenig. Die ryk moes lewensruimte (Le­ben­sraum) soek in die gebiede waar Duits gepraat is, en later ook in die ooste waar “minderwaardige” volke onderwerp en gekolonialiseer kon word. Duitsland en die res van die wêreld moes van Jode* gesuiwer word, omdat hulle volgens die Nazi-ideologie (Kyk by: Ideologie) geen eie staat gevorm het nie, maar as parasiete op ander nasionale volksgemeenskappe geteer het. Kommunistiese Rusland was vir Hitler die voorbeeld van ’n staat waar die “Joodse” wêreldbeskouing van Karl Marx* via Joodse rewolusionêres soos Trotski, Kamenev en Zinoviewe internasio­nalisme gepreek het. Die nasionaal-sosia­lisme het die Joodse gevaar aan die ander kant ook in die kapitalisme* gesien, wat eweneens deur Jode beheers sou wees. Tussen 1933 en 1945 probeer Hitler sy nasionaal-sosialistiese program deurvoer, met verskriklike gevolge. In die praktyk was dit ’n poging om kommunisme* te vernietig, Jode uit te roei, en slawistiese volke te onderwerp. Ironies genoeg, het Hitler aanvanklik ’n pakt met  kommunistiese Rus­land gevorm, maar later in die Tweede Wêreldoorlog* met geweld teen Rusland gedraai. Hoewel die nasionaal-sosialisme swaar op steun van die Lutherse* Protestan­tisme gereken het, moet die rassistiese antisemitisme daarvan eerder na die 19de eeuse sosiale Darwinisme* teruggevoer word. In sy verskriklike uitwerking is die nasionaal-sosialisme ’n negatiewe mylpaal in die geskiedenis van Europa waarvan die erfenis nog steeds in die Europa van die 21ste eeu sigbaar is.

Sidebar