NASIREËR

NASIREËR was iemand wat in die Ou-Testamentiese* tyd homself deur ’n be­paalde lewenstyl* aan die Here* toegewy het. In Num 6 word bepaal hoe so iemand moes leef. Hy mag nie sterk drank gedrink het nie, nie sy hare gesny het nie en nie met ’n dooie dier of mens in aanraking gekom het nie. Volgens hierdie teks kon iemand vir ’n bepaalde tyd homself so aan die Here toewy, en dit kon deur sekere rituele beëindig word. By sommige Ou-Testamen­tiese voorbeelde lyk dit egter of sulke mense ook lewenslank as nasireërs toegewy kon word. Hoewel Samuel* nie direk ’n nasireër genoem word nie (sien 1 Sam 1:11), is dit uit sy lewenstyl duidelik dat hy hom op so ’n manier toegewy het aan die Here. Simson* word wel ’n nasireër genoem (vgl Rig 13), maar hy steur hom blykbaar nie daaraan wanneer hy drinkpartytjies hou en ’n leeu doodslaan nie! ’n Nuwe-Testamentiese* figuur wie se lewe ook trekke van ’n nasireër vertoon, is Johan­nes die Doper* wat in die woestyn in afsondering gaan bly het.

 

Sidebar