NATURALISME

NATURALISME is ’n begrip wat in ’n groot aantal kontekste voorkom, en waarvan die betekenis deur hierdie verskeidenheid van kontekste bepaal word. ’n Mens tref die begrip aan in die filosofie, etiek*, sosiologie, asook as aanduiding van ’n be­paalde styl in beeldende kuns, letterkunde en in die teater. In die teologie* verwys na­turalisme in hoofsaak na die ateïstiese* standpunt wat aanvoer dat die natuur die somtotaal van alles is wat bestaan, en dat dit daarom ongeoorloof is om te aanvaar dat daar buitekant die natuur ’n transen­dente wese is wat ons “God” noem.

Naturalisme in die etiek en bio-etiek* is die standpunt wat skepties is oor die morele status van ’n hele aantal nuwe reproduktiewe tegnologieë (bv in vitro-bevrugting*, kloning* en surrogaatmoederskap). Die rede vir hierdie skepsis is die aanspraak dat hierdie tegnologieë “teen die natuur” is, dit wil sê dat hulle vorms van menslike voortplanting moontlik maak wat anders verloop as wat “natuurlik” die geval is. “Naturalisme” is dus ’n standpunt wat dit wat reg of goed is, gewoon wil laat saamval met dit wat “natuurlik” is. Die beswaar daarteen is dat ons dan skepties behoort te staan teenoor alle kultuurprodukte, aangesien alle vorms van kultuur ’n ingryping op en omvorming van “die na­tuur” behels. (Kyk ook: Etiese naturalisme.)

Vir verdere lees: http://www.ditext.com/ runes/n.html#Naturalism

 

Sidebar