NATUURREG

NATUURREG verwys na die oorspronklike morele besef op grond waarvan alle mense tussen goed en kwaad kan onderskei. Hiervolgens besit elke mens, vanweë sy natuur, insig in “die goeie”.

Dit was veral die stoïsyne* wat die teorie van die natuurreg uitgebou het (“natuurreg” as “verstandsreg”). Die ware wet is die regte verstand in ooreenstemming met die natuur (Cicero).

Augustinus* sluit by die antieke denke aan, maar verbind die natuurlike redelikheid met die Bybelse* sonde*leer. Die klassieke (Katolieke*) natuurregleer is deur Tomas van Aquino* geformuleer. Hy be­skou “wet” (“reg”) as die basiese reël wat mens­like gedrag bepaal. Hy onderskei tussen vier wette: 1. ewige wet (lex aeterna) – die Goddelike rede wat alles regeer; 2. natuurwet (lex naturalis) – die natuurlike lig van die menslike rede waarvolgens die mense tussen goed en kwaad onderskei – ’n daad is goed as dit ooreenstem met die mens se redelike natuur; 3. menslike wet (lex humana) – menslik gepositiveerde wette gebaseer op die natuurwet; 4. God­delike wet, gegee vir gelowiges en die kerk*, om God te ken en lief te hê.

Die Kerkhervormers* het die natuurreg­leer vanweë hulle regverdigings-* en sondeleer grotendeels weerspreek. Calvyn* het wel ’n natuurlike insig by die mens erken, maar bygevoeg dat hierdie insig deur die sonde beperk en verduister is. Daar is weggedoen met die tweedeling van “na­tuur” (wat deur die sonde aangetas is) en “bonatuur” (wat die effek van die sonde vrygespring het). Die bonatuur “vervolmaak” nie bloot die “natuur” nie.

Die vraag na “natuurreg” is veral ’n vraag na die antropologie (Honecker). Word van ’n optimistiese en sondevrye mensbeeld uitgegaan, kan aan die natuurregleer ’n volwaardige plek toegeken word. Uit ’n By­belse norme- en sondeleer word egter skerp kritiek teen die natuurregleer uitgespreek. Uit die “natuur” (ook die menslike natuur) kan nie ondubbelsinnig afgelei word wat goed of kwaad is en hoe om daarvoor te kies nie. Apartheidsteoloë (Kyk by: Apartheidesteologie) in Suid-Afrika het bv die “natuurlike” afleiding ge­maak dat, omdat diersoorte nie meng nie, daarom mag mense ook nie meng nie!

Mense het inderdaad ná die sondeval nog volledig ménse gebly, met volle verantwoordelikheid teenoor God vir al hulle optredes, maar hulle benodig die lig van die evangelie* vir ’n goeie lewe hier en die ewige lewe hierna – nie as vervolmakende krag van dit waaroor hulle reeds beskik nie, maar as transformerende krag van wat hulle moet wees en word.

Vir verdere lees: J Douma 1990. Ethiek en recht. Kampen: Van den Berg.

Sidebar