NAUDÉ, CHRISTIAAN PETRUS (CHRIS)

NAUDÉ, CHRISTIAAN PETRUS (CHRIS) (1935–2006) het aan die Univer­siteit van Pretoria studeer, is in 1959 gelegi­timeer en was die predikant van Vander­bijl­park, Ohrigstad, Reitzpark en Tzaneen voor­dat hy kapelaan* in die Suid-Afri­kaanse Weermag geword het. In 1978 het hy assistent-kapelaan-generaal (Leër) geword, en in 1983 kapelaan-generaal van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW). Hy het die Suiderkruis-Dekorasie (SD) en die Ster van Suid-Afrika (SSAS) ontvang. Van 1990 tot 1994 het hy die bediening van lidmate in Noord-Amerika behartig. Naudé se standpunt toe hy kapelaan-generaal was, was dat die bedreiging van Suid-Afrika in daardie tyd bevorder is deur die kommunistiese* ekspansionisme van die Sowjet-Unie en sy bondgenoot Kuba – “hierdie magte se uitgesproke ateïsme* was by implikasie ’n bedreiging vir godsdiensvryheid*”. Hy het verklaar dat hy nie bewus was van koverte (geheime) bedrywighede van die Weermag nie. Aangesien die “moet weet”-beginsel in die SAW streng gehandhaaf is, is die kapelaan-gene­raal volgens hom per definisie nie betrek by die beplanning en uitvoering van koverte operasies nie. Hy beklemtoon dat die Kapelaansdiens in die SAW destyds hulle profetiese taak nagekom het: “Waar ons verkeerd was, het ons opgetree, en waar ons moes teregwys, het ons nie geskroom om dit te doen nie. Die Kapelaansdiens se primêre doelwit was die verkondiging van die Woord van God, en ons werksaamhede was deurgaans hiervolgens ingerig. Ons het deurlopend daarteen gewaak om enigsins polities betrokke te raak.”

Tydens ’n Katolieke Kapelaanskonferen­sie in Rome het Naudé ’n oudiënsie met pous Johannes Paulus II* gehad en ’n spesiale “Vaderlike Apostoliese Seëning” in Afrikaans* ontvang, gerig aan die Kapelaan-Generaal en sy kapelane.

Vir verdere lees: “Die NG Kerk en die Veiligheidsmagte”, in Algemene Sinodale Kommissie 1997. Die verhaal van die NG Kerk se reis met apartheid. Wellington: Hugenote-Uitgewers.

Sidebar