NAUDÉ, PETRUS JACOBUS (PIET)

NAUDÉ, PETRUS JACOBUS (PIET) (1956–) het sy teologiese studie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en ’n doktorsgraad verwerf met as proefskrif Ortopraxis as metodologiese beginsel in sistematiese teologie. Hy is tot nog toe die enigste student van die Universiteit van Stellenbosch wat in dieselfde jaar (1982) die voorsitter van die studenteraad was én die Kanseliersmedalje vir die beste student gekry het. Naudé het verskeie internasio­nale akademiese toekennings ontvang, waaronder die Abe Bailey-beurs (Engeland 1982) en die Alexander von Humboldt-stipendium (Duitsland 1997). Naudé is be­kend vir sy eietydse en oop benadering tot kerksake, maar met ’n gebalanseerde teologiese onderbou. Van sy belangrike publikasies is Brug na môre (1994), Drie maal een is een (2004), en Geesgedrewe gelo­wiges (2005). In 2011 ontvang hy die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys (Kyk by: Andrew Murrayprys) vir sy boek oor die Belydenis van Belhar*, Calendar nor Clock (2010). Naudé het in 2001 ’n beroep na die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch as professor in homiletiek* (preekkunde) van die hand gewys en besluit om met sy werk aan die Nelson Mandela-Metropoli­taanse Universiteit (Port Elizabeth) voort te gaan waarvan hy in 2011 ’n vise-rektor geword het. In 2014 het hy die direkteur van die Sakeskool, Universiteit van Stellenbosch, geword.  Van 2000 tot 2003 was Naudé  moderator* van die Oos-Kaapse sinode* van die NG Kerk* en het in die breër kerklike verband ’n vernuwende rol gespeel. Hy was ook president van Business Ethics Network of Africa wat 24 Afrikastate verteenwoordig.

 

Sidebar