NAVOLGING

NAVOLGING. Naas die algemene betekenis van volg*, is navolging ’n toegespitste betekenis van die woord wat daarop dui dat ’n dissipel* nie net ’n leier se leiding volg nie, maar ook ’n aanhanger van sy leer of onderwysing is. Jesus* self het sy bedie­ning as leier begin en deurgevoer deur volgelinge of dissipels* om Hom te vergader (Matt 4:18-22; Mark 1:16-20) en hulle te leer (Matt 5:3). Dwarsdeur die Nuwe Testament* word Jesus as God se rolmodel vir die mens voorgestel (Joh 13:34; Fil 2:5; 1 Pet 2:21) en volgelingskap van Christus* was van die begin af een van die kernelemente van die Christelike leer en lewenspraktyk. Aanvank­lik het Jesus se dissipels as ’t ware indiensop­leiding in ’n leermeester-leerling-verhou­ding van Hom ontvang. In die res van die Nuwe Testament vind die woord neerslag as ’n uitdaging aan Christene om elke dag van hulle lewe meer en meer soos Jesus self te lewe (Gal 4:19; Kol 3:10; 1 Joh 2:6). Later het die woord “dissipelskap”* ’n meer algemene beskrywing geword van die Christelike lewenstyl van liefde*, eenvoud, onselfsugtigheid, diensbaarheid aan ander en selfkruisiging (Kyk by: Kruis) in navolging van Christus.

Sidebar