NAVORSINGSETIEK

NAVORSINGSETIEK is ’n spesialisasie-area in professionele etiek* wat fokus op die integriteit van wetenskaplike navorsing. Normaalweg word etiese komitees deur navorsingsinstellings soos universiteite, navorsingsrade en privaatsektor-laboratoriums saamgestel, dikwels volgens statutêre voorskrifte, om die etiese kwessies verbonde aan spesifieke navorsingsvoorstelle te identifiseer, te ontleed en riglyne vir die hantering daarvan neer te lê. Sommige vaktydskrifte publiseer deesdae geen artikels wat nie ’n formele proses van etiese klaring deurloop het nie.

In riglyne vir etiese navorsing word normaalweg sterk klem gelê op die volgende beginsels: 1. waarheid en betroubaarheid van navorsingsresultate – wat onder meer streng vereistes stel aan die eerlikheid van die navorser en die deursigtigheid van die navorsingsproses, insluitende die rapporte­ring van navorsingsresultate; 2. besker­ming van objekte van navorsing – wat in die geval van navorsing op mense onder meer ingeligte toestemming vir deelname aan die navorsing vereis, sowel as respek vir menswaar­digheid, en vertroulikheid in die hantering van persoonlike inligting; in die geval van navorsing op diere, waar moontlik die vervanging, vermindering en verfy­ning van hulle betrokkenheid, asook die minimalisering van negatiewe impakte waar navorsing ’n invloed op die natuurlike of sosiale omgewing het (Kyk by: Diere­regte); 3. beskerming van die breë publiek, sowel as die navorsers, indien enige gevaarlike stowwe of organismes in die navorsing betrokke is.

Die belangrikheid van navorsingsetiek word sterk onderstreep deur die Belmont-verslag van 1979 wat spesifieke riglyne neerlê vir navorsing op menslike subjekte, en eksplisiet verwys na die onetiese navorsing wat in Nazi*-konsentrasiekampe gedoen is op onwillige gevangenes, en na die berugte Tuskegee-geval in die VSA waartydens ’n groep plattelandse swart mans in die 1940’s onwetend met placebo’s “behandel” is om die natuurlike verloop van sifillis te bestu­deer. Ewe-eens plaas die toenemende kommersialisering van universiteite en die “derdestroom”-geld wat hulle met kontraknavorsing kan verdien, ’n groot mate van druk op die integriteit van navorsing.

Vir verdere lees: K Schrader-Frechette 1994. Ethics of Scientific Research. Lanham: Rowman & Littlefield Publishers, Inc.

 

Sidebar