NDUNGANE, WINSTON HUGH NJON­GONKULU JONGOBKULU

NDUNGANE, WINSTON HUGH NJON­GONKULU JONGOBKULU (1941–) is in Kokstad gebore. In 1960 was hy as student aan die Universiteit van Kaapstad betrokke by die “AntiPass Law Demonstrations”. Hy het ’n vonnis op Robbeneiland* as politieke gevangene uitgedien (1963–1966). Ndungane is in 1974 georden as priester*2 van die Angli­kaan­se Kerk* in die bisdom van Kaapstad. Hy het sy teologiese grade by King’s College, Londen, verwerf – in 1979 ’n meestersgraad in Christelike etiek*. In 1981 het hy die provinsiale skakelbeampte van die Anglikaanse Kerk geword, in 1991 biskop van Kim­berley en Kuruman en in 1996 aartsbiskop van Kaapstad as opvolger van Desmond Tutu*. Nadat die nuwe staatkun­dige bede­ling in Suid-Afrika aangebreek het, het hy ’n tyd lank in die raad van die openbare uitsaaier, die SAUK, gedien. Hy is die ontvan­ger van verskeie eregrade, insluitend eredoktorsgrade in teologie* van Rhodes-universiteit en van die Protestantse Episko­paalse Seminarie in Virginia, VSA, en in filosofie van die Universiteit van Kaap­stad. ’n Publikasie wat deels ’n outobiogra­fie en deels ’n versameling van toesprake en preke van Ndungane is, A World With A Human Face: A Voice From Africa, is in 2005 gepubliseer. Hy was betrokke by veldtogte om Derde Wêreldlande se skuld afgeskryf te kry. Ndungane het in 2007 afgetree.

Vir verdere lees: Njongonkulu Ndun­gane 2005. A World With A Human Face: A Voice From Africa. Londen: SPCK.

 

Sidebar